Print

20 August 2014 by Theo Vorster

Van pynappels tot skroewe en boute

Hendrik Marais is wat ’n mens ’n reeks-entrepreneur sou kon noem. Hy het al verskeie ondernemings begin, ander gekoop en uitgebrei – en ook gesien hoe hulle swig onder druk.

As skoolkind het hy pynappels verkoop en vandag bedryf hy Eureka, ’n eenstopwinkel vir alle “vasmaakmiddels”, van skroewe tot gom. Eureka het meer as 650 werknemers en 50 afleweringsvoertuie op die pad wat uit ’n kompleks van 30 000 m² meer as 2 000 ysterwarewinkels van onder meer boute, moere, spykers en skroewe voorsien.
 
Marais sien homself nog as ’n smous. Sy “roeping” as verkoopsman is uit nood gebore – dit was die enigste manier om sakgeld te verdien, want hy het baie arm grootgeword. (Maar ’n gebrek aan geld is geen verskoning om nie verder te studeer nie, sê hy, en “dis nie jou ouers se verantwoordelikheid om vir jou studie te betaal nie”.) ’n Vraag waarmee entrepreneurs gereeld worstel, is of hulle ’n bestaande onderneming moet koop of self een van niks af moet opbou. Marais het al albei gedoen – verskeie kere – en “geleer uit harde ondervinding”. Barney’s Paints het hy by die stigter, Barney Marks, gekoop en uitgebou tot 11 ysterwarewinkels.

Eureka het hy van niks af opgebou met die kennis wat hy opgedoen het toe hy Barney’s bestuur het. Marais meen albei maniere het meriete, en as jy die bedryf ken, gaan jy weet waar die geleenthede is. Sy vertrekpunt is dat klante altyd waarde vir hul geld moet kry. “Ons kan meer geld maak, maar dan gaan die onderneming nie volhoubaar wees nie. Of dit nou goedere of dienste is, jy moet altyd seker maak dat die klante beter daaraan toe is sónder die geld en mét die goed.”

Sy bonus- en winsdeelstruktuur is uniek. Hy grond kwartaalliks bonusse op die winsgewendheid van die hele onderneming. “As daar nie ’n wins is nie, dan deel ons nie.” Sake is ’n spanpoging, sê hy. “Elkeen in die span moet deel in die sukses as ’n persentasie van sy salaris.” Die uitsondering is verkoopsmense – hulle werk op kommissie omdat hulle dit kan beheer. Die struktuur moenie gemanipuleer kan word nie, “anders verloor mense vertroue daarin”. Word entrepreneurs gebore of word dié vaardigheid aangeleer? “Party mense gaan sukkel; ander het weer ’n vuur om hul eie onderneming te wil hê. Maar almal kan leer om ’n beter entrepreneur te wees.”

 article source: http://sakegesprek.co.za/hendrik-marais/