Print

21 June 2014  Hendrik Marais at Forum Homini with TT Cloete

'n Noenmaal is onlangs by die Forum Homini Hotel in Kromdraai gehou ter viering van Wêrelddag vir Kulturele Verskeidenheid, Dialoog en Ontwikkeling. Van links is Vanessa van der Merwe, Plus 50 Skakelbeampte, prof TT Cloete en Hendrik Marais, eienaar van die hotel .

Die Forum Homini (wat beteken plek waar mense praat) Hotel het onlangs sy naam gestand gedoen.

Dié boetiekhotel het ter viering van Wêrelddag vir Kulturele Verskeidenheid, Dialoog en Ontwikkeling wat deur Unesco ingestel is, ‘n noenmaal gehou.

Verteenwoordigers van die tydskrif Plus 50 en drie vooraanstaande sprekers sowel as gaste het aan die gesprek deelgeneem.

Daar is gepraat oor die belangrikheid van dialoog en veral die plek van die mens in die kosmos is uitgelig. Uitgesoekte gaste van GrysKrag en Eureka Varsity het saam geëet, na die kort aanbiedings geluister en gedagtes uitgeruil onder die tema Van grot tot grenspos van die sterre.

Hendrik Marais, eienaar van Forum Homini was die gasheer en self ook ‘n spreker, terwyl dr Karel Prinsloo van Plus 50 en GrysKrag vir die programverloop verantwoordelik was. Die sprekers, wat ook die gesprekinleiers was, was prof T T Cloete, Mike Morapedi en prof Ludwig Combrinck.

Cloete is ‘n gevierde Afrikaanse digter wat reeds agt digbundels gepubliseer het. Hy het verlede maand 90 jaar oud geword en het ook nog onlangs ‘n outobiografiese prosawerk Die ander een is ek gepubliseer. As digter is hy daarvoor bekend dat hy die essensie van menswees oor grense in sy poësie oor die mens in die kosmos raakvat.

Mike Morapedi is nasionale beskermheer van Studietrust wat oor die jare studiegeleenthede vir duisende jongmense geskep het. Hy het oor grense van kulturele diversiteit dialoog tussen groepe en die ontwikkeling van individue bevorder.

Combrinck is hoof van die Space Geodesy-program by Hartebeesthoek (HartRAO), ‘n Nasa-geaffilieerde moniteringstasie. Die HartRAO-moniteringstasie is enig in sy soort in Afrika en prof Combrinck werk oor kulture en lande heen aan navorsing in belang van die aarde en die mens.

Uit die gesprekke het dit duidelik geword dat die mense van Suid-Afrika verdraagsaamheid kan uitbou deur armoede te bekamp en goeie verhoudinge te bevorder.

Ander faktore wat stabiliteit in die hand kan werk, is die uitbouing van sinvolle en deurlopende onderwys, die bevordering van entrepreneurskap, en sorgsame bande met die natuur. Die slotsom van die “mense wat gepraat het” in die Wieg van die Mensdom is dat elkeen so intensief moontlik moet leef, klein en nederig voor mekaar moet wees en uiteindelik tog in die gees die sterre kan bereik.

article source: http://krugersdorpnews.co.za/236476/hotel-doen-sy-naam-gestand/